Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus maak kapsie teen onreëlmatige aanstellings in Lekwa-Teemane

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan Noordwes se LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en behuising (Cogsta), mnr. Nono Maloyi, versoek dat daar dringend ondersoek ingestel word na die onreëlmatige aanstelling van ʼn nuwe munisipale bestuurder en twee direkteure in die Lekwa-Teemane plaaslike munisipaliteit (Bloemhof, Christiana, Boitumelong en Utlwanang).

Dit volg nadat ʼn ANC/EFF-faksie onder leiding van die reeds omstrede ANC-burgemeester, Moses Mohlabi, Vrydag tydens ʼn raadsvergadering die aanstelling van Michael Makhubela as munisipale bestuurder bekragtig het. Mohlabi word tans vir beweerde onreëlmatige besteding in die munisipaliteit ondersoek.

Die VF Plus was die enigste party in die munisipale raad wat kapsie gemaak het teen die aanstelling. Die party het uitgewys dat die aanstellingsproses ondeursigtig was en heeltemal in stryd met munisipale wetgewing.

Hierdie soort optrede van die burgemeester en sy EFF-meelopers ondermyn die munisipale raadslede se vermoë om behoorlike oorsig oor senior aanstellings in die munisipaliteit te doen.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die pas aangestelde Makhubela in Maart 2021 skielik by die Bela Bela-plaaslike munisipaliteit in Limpopo bedank het voordat sy termyn verstryk het.

Sy dienstydperk was gekenmerk deur wydlopende gemeenskapsontevredenheid oor beweerde wanadministrasie by die munisipaliteit.

Die ontplooiing van bedenklike ANC-kaders vorm ʼn patroon waar hul wanbestuur en/of korrupsie by een munisipaliteit blootgelê word, om dan net weer by ʼn volgende munisipaliteit aangestel te word.

Hierdie gebeure toon ook die vasbeslotenheid van die ANC en ander faksies om ten alle koste die belange van hulself en hul ontplooide kaders voorop te stel, ten koste van dienslewering aan inwoners en ʼn skoon administrasie in die munisipaliteit.

Die VF Plus sal bly stry vir die herstel van ʼn skoon munisipale administrasie in Lekwa-Teemane.

Die inwoners van Bloemhof, Christiana en omstreke ly reeds te lank onder die gevolge van die ANC se wanadministrasie, kaderontplooiing en korrupsie.

Lekwa-Teemane verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.