Die VF Plus het vandag tydens ʼn vergadering van die ANC-beheerde munisipale raad in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, beswaar aangeteken teen die gemiddelde tariefverhogings van 23% in die nuwe jaarlikse begroting.
Die party het ook uitgewys dat die geprojekteerde inkomste in die begroting totaal onrealisties is.
Hierdie tariefverhogings word boonop ingestel in ʼn tydperk wat gekenmerk word deur ʼn ernstige verval van infrastruktuur en basiese dienslewering.
Jare se finansiële wanbestuur, korrupsie en wanbesteding eis nou sy tol.
Om nét die uitstaande munisipale skuld aan Eskom en Midvaal Water te delg, sal R175 miljoen per maand beloop terwyl die munisipaliteit tans slegs R125 miljoen maandeliks inkry.
Ten spyte van die ANC in die munisipaliteit se vele beloftes, is daar nog geen bewyse dat enige doeltreffende stappe gedoen is om die endemiese korrupsie te voorkom nie.
Vele korrupsiesake in die munisipaliteit het bloot ʼn stille dood gesterf.
Matlosana se finansiële verknorsing word verder vererger deur swak beplanning, ʼn ernstig oorlade salarisrekening en swak tot geen kontrole oor die werkverrigting van kontrakteurs wat die munisipaliteit ten duurste aanstel nie.
Miljoene rande word verspil op die herstel van brouwerk van kontrakteurs en ANC-tenderpreneurs.
Die VF Plus het reeds by herhaling in die raad uitgewys dat Matlosana op ʼn afgrond afstuur indien uitgawes nie beperk en geprioritiseer word op kwaliteit-dienslewering in die munisipaliteit nie.
Die party het ook daarop gewys dat die verval van kritieke infrastruktuur weens wanbestuur, direk aanleiding gee tot die gebrek aan privaat-investering in die gebied.
Baie bestaande ondernemings soek ook reeds groener weivelde wat ʼn verdere ernstige bedreiging vir die reeds benarde inkomste van die munisipaliteit inhou.
Die inwoners van Matlosana verdien beter as die ANC.