Die VF Plus loof die flink optrede van die polisie ná ʼn skietvoorval vandag in die sakekern van Meyerton.
Gewapende persone het met AK-47-aanvalsgewere na willekeur losgebrand op mense by ʼn taxi-terminus en ʼn skolier in die been gewond.
Leerders en onderwysers van ʼn nabygeleë skool moes ontruim word en in veiligheid gebring word.
Die polisie het intussen bevestig dat drie verdagtes vasgetrek is.
Die flink optrede van die polisie en nooddienste het verdere skade en lewensverlies voorkom.
Die VF Plus het intussen geskakel met die kantoor van die Gautengse premier, Panyasa Lesufi, en die LUR vir vervoer, Kedibone Diale, om die voorval te ondersoek wat taxi-geweld blyk te wees.
Dit is onaanvaarbaar dat onskuldige pendelaars en omstanders slagoffers is van onderlinge geskille in die taxi-bedryf en dit moet die nodige aandag op die hoogste vlak geniet.