Die VF Plus wil weet presies wie trek voordeel uit beleggings van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) met geld van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF), sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.
Adv. Alberts sê die VF Plus is nie tevrede met die inligting wat die OBK op 18 Oktober 2016 met die parlementere portefeuljekomitee oor finansies gedeel het nie.
Hy sê die verslag wys wel uit watter bedrae belê is in watter entiteite, en dui ook die direkteure aan, maar maak geen melding aan wie hierdie entiteite, wat beleggings uit die GEPF ontvang het, behoort nie.
Die VF Plus het daarom vandag ‘n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia-Wet) by die OBK ingedien om hierdie inligting te verkry.
“Die kernvraag is of enige politiek-verbonde persone direk of indirek aandele of enige ander belang in die entiteite het waarin so mildelik belê is. Gegewe die omvang van staatskaping wat tans ontvou, is dit baie belangrik om vas te stel of enigiemand wat polities verbind is, finansieel bevoordeel is deur die OBK wat namens die GEPF en die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) beleggings maak.
“Dit is algemeen bekend dat die GEPF ideaal geposisioneer is om politiek-verbonde persone te bevoordeel ten koste van die lede van die GEPF.
“Die VF Plus onderneem dus om sy oorsig oor die GEPF te verskerp ten einde te verseker dat daar nie nog ‘n debakel soos met Transnet se pensioenfonds ontwikkel nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403