Die VF Plus het ʼn mosie ter tafel gelê oor die wanfunksionering van BXC-slimmeters in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) wat op 27 November voor die raad sal dien.
BXC is ʼn nasionale maatskappy wat slimmeters aan verskeie munisipaliteite verskaf.
Die party ontvang verskeie klagtes van inwoners wat nie ʼn regverdige hoeveelheid krageenhede ontvang vir die bedrag wat hulle bestee het nie.
In een geval het ʼn inwoner R2 000 se krag aangekoop, maar slegs R1 000 se krageenhede ontvang. By navraag is sy meegedeel dat sy ʼn agterstallige rekening by die munisipaliteit het. By nadere ondersoek, het die VF Plus vasgestel dat haar kragrekening nie agterstallig is nie.
Die munisipaliteit het ook nie ʼn reël dat agterstallige rekeninge van voorafbetaalde eenhede afgetrek word nie.
Daar is uiteindelik vasgestel dat die persoon se meter-instelling dieselfde is as die van die Setsoto-plaaslike munisipaliteit (Clocolan, Ficksburg, Marquard, Senekal) en nie die van Emfuleni nie.
Daar is uiteindelik onderneem om die meter te vervang.
Die VF Plus is nie gekant teen die installering van slimmeters nie, maar dan moet foute uitgeskakel word wat inwoners benadeel.
In die mosie vra die VF Plus onder meer of die installering van slimmeters geoudit word en dat die kontrak tussen Emfuleni en BXC aan die raad beskikbaar gestel word.
Daar moet ook duidelikheid verkry word oor hoe winsdeling plaasvind en wanneer Eskom betaal word.
Die VF Plus sal die proses noukeurig volg om seker te maak dat inwoners nie onregverdig benadeel word met kragaankope nie.


