Die VF Plus verwelkom die besluit van die Gautengse regering om die sogenaamde misdaadvoorkomingsbeamptes (AmaPanyaza) te ontbind en beskou dit as ’n erkenning van die program se mislukking.
Sedert die aankondiging van hierdie projek in 2023 het die VF Plus gewaarsku dat dit onwettig, onprakties en gevaarlik is om persone sonder voldoende opleiding of mandaat in die hoedanigheid van wetstoepassers aan te stel selfs al sou die bedoeling daarmee goed wees.
Suid-Afrika se Grondwet bepaal duidelik in artikel 205(1) dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitsluitlik verantwoordelik is vir die voorkoming, bestryding en ondersoek van misdaad. Provinsiale regerings het geen mandaat om parallelle polisiemagte te stig nie.
Die AmaPanyaza is egter aangestel en befonds deur die Gautengse provinsiale regering, toegerus met uniforms en voertuie wat byna identies dieselfde as dié van die polisie is. Die lede is ook toegelaat om misdaadvoorkomingsaktiwiteite uit te voer sonder nasionale polisieregistrasie of wetlike magte.
Dit beteken hulle het funksies uitgevoer wat slegs die polisie toekom. Dit was ’n oortreding van die skeiding van magte tussen nasionale en provinsiale owerhede.
Die program het nie misdaad verminder nie, maar belastingbetalers miljoene rande gekos en die skeiding van magte tussen provinsie en nasionale veiligheidsdienste ondermyn.
Die party beskou die plan om sekere lede nou as verkeersbeamptes of bywetstoepassers te herlei as ’n poging om ’n politieke mislukking te verdoesel. Wat Gauteng nodig het, is nie parallelle strukture nie, maar professionele, verantwoordbare beamptes met ‘n wetlike mandaat om steun aan die polisie te bied.
Die VF Plus sal aanhou om toesig te hou oor hierdie proses en eis volledige finansiële deursigtigheid oor die koste van die AmaPanyaza-program en die nuwe opleidingsinisiatief.


