Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Glenharvie al vir 23 dae sonder water

Die waterkrisis waaronder Glenharvie in die Rand West-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria) al vir 23 dae gebuk gaan, is nou besig om na omliggende gebiede uit te brei.

Venterspost en Zuurbekom se watertoevoer het vandag ook begin opdroog.

Gefrustreerde inwoners het Dinsdag ʼn protesoptog op die N12 tussen Johannesburg en Potchefstroom gehou om hul misnoeë met die situasie te kenne te gee.

Die VF Plus is van mening dat die waterprobleem nog vir ʼn geruime tyd kan voortduur omdat Rand Water sy watertoevoer na die munisipaliteit met 20% gesny het en Glenharvie se twee reservoirs op die hoogste punt van die munisipale gebied geleë is.

Dit veroorsaak dat die hoogliggende gebiede eerste sonder water is. Die watervlak by die reservoirs is onderskeidelik 5% en 25%

Luidens ʼn skrywe van Rand Water sal hy weer voldoende water aan die munisipaliteit lewer wanneer die uitstaande bedrag van R872 miljoen betaal is.

Die VF Plus het die burgemeester, William Matsheke, versoek om dadelik met Rand Water in verbinding te tree om ʼn afbetalingsooreenkoms aan te gaan om die watertoevoer te herstel. Die munisipaliteit moet ook die ooreenkoms nakom en nie soos in die verlede minag nie.

Rand West beskik tans nie oor die finansies om die volle uitstaande bedrag te betaal nie.

Die party het ook die dringendheid beklemtoon om genoegsame water aan die Combined School in Glenharvie te verskaf waar matrieks tans besig is met eindeksamens.

Die skool kan nie langer sonder water funksioneer nie en die VF Plus het ‘n beroep op die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit gedoen om meer watertrokke na die skool en klinieke in die omgewing te stuur.

Dit is nie regverdig dat leerders, pasiënte en inwoners van Glenharvie gestraf word vir die munisipaliteit se wanbestuur nie.

Die tyd is hier om die ANC-regering uit die kussings te lig en ʼn regering te verkies wat omgee vir inwoners se welstand en basiese dienste kan verskaf.

Die VF Plus sal die situasie fyn dophou en indien dit nie verbeter nie, met die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Gogta), Jacob Mamabolo, skakel om in te gryp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.