Die VF Plus neem met kommer kennis van die Tshwane-metro se herklassifikasie van kleinhoewes na residensiële eiendomme in die 2025-eiendomswaardasierol wat lei tot aansienlik hoër eiendomsbelastingtariewe. Alhoewel die waardasierol oop was vir inspeksie, was direkte kommunikasie aan eienaars ontoereikend.
Hierdie optrede van die ANC/ActionSA/EFF-regering is onregverdig en moontlik in stryd met die Munisipale Eiendomsbelastingwet, veral waar bona fide landbouhoewes betrokke is.
Die Grondwethof het in ’n uitspraak op 24 Maart 2025 in die saak van Ekapa Minerals teen die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit bevestig dat munisipaliteite nie onredelik mag diskrimineer tussen eiendomskategorieë nie.
Landbouhoewes wat vir bona fide landboudoeleindes gebruik word, kwalifiseer vir ’n verpligte belastingkorting van minstens 75%. Waar die metro hierdie korting ontken en landbougrond na residensieel herklassifiseer sonder voldoende bewys van primêre residensiële gebruik, is dit onwettig.
Verder het die metro nie voldoende direkte konsultasie met grondeienaars gehad soos wat die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet vereis nie. Die gebrek aan effektiewe openbare deelname maak die proses prosedureel onregverdig en regtens aanvegbaar.
Die VF Plus dring aan dat die Tshwane-metro onmiddellik die wettige 75%-belastingkorting herstel vir alle bona fide landbouhoewes, soos vereis deur wetgewing.
Die party eis ook dat die metro duidelike riglyne publiseer oor wat as bona fide landboudoeleindes kwalifiseer en dat ’n regverdige, inklusiewe konsultasieproses gevolg word voordat enige verdere tarief- of klassifikasieveranderinge gemaak word.
Landbouers mag nie langer slagoffers wees van ondoeltreffende administrasie nie. Die reg moet geld en dit moet geld vir almal.


