Die stadige reaksie van die Ekurhuleni-metro se departement van water en sanitasie oor die massiewe rioolbesoedeling by die Boksburgmeer, is ʼn erkenning dat die metro eers amptelik bewus geword het van die krisis ná die VF Plus dit op 9 Oktober aangemeld het.
Dit ondanks die feit dat die besoedeling vir maande sigbaar was.
Luidens ʼn verslag van die departement voer die rioolpyp, wat nou herstel is, nie net huishoudelike riool weg nie, maar ook chemiese afval van nabygeleё nywerhede waarvan daar geen rekordhouding bestaan nie.
Die herstel van ‘n beskadigde pyp rehabiliteer egter nie die besoedelde meer of die waterstroom waarin die afval gestort is nie en die VF Plus dring aan op verdere stappe.
Dit sluit ’n onafhanklike water- en grondtoets in om die omvang en graad van die besoedeling te bepaal, aangesien die interne verslag nie voldoende is nie.
Die party gaan die voorval ook by die Gautengse omgewingsdepartement aanmeld vir ‘n ondersoek oor moontlike nalatigheid en die opstel van ʼn rehabilitasieplan met sperdatums en duidelike verpligtinge. (Vind net uit of sy dit nie dalk reeds gedoen het nie. Ons verkies dat die stap reeds geneem is en dit dan in ʼn verklaring te gebruik.)
Die VF Plus vra ook dat stortingsrekords van alle nywerhede opgestel word om vas te stel watter fabrieke bydra tot besoedeling.
Indien die metro nie die rehabilitasievoorstelle betyds in werking stel nie, sal die VF Plus die saak na die Groen Skerpioene verwys.
Die VF Plus hou vol dat dié storting langs die openbare biblioteek, met kinderspeelplekke in die omgewing, nie as ’n afsonderlike voorval afgemaak kan word nie, maar deel is van ’n groter stelselprobleem wat dringend aandag verg.
Die Boksburgmeer is nie net vuil nie, maar siek.
Die omgewing om die Boksburgmeer het nie ’n verfkwas en mooi woorde nodig nie, maar ernstige ingryping.
Die VF Plus sal toesien dat die rehabilitasie nie net ’n oefening op papier is nie, maar dat dit ‘n werklike herstelprojek sal word met openbare aanspreeklikheid.


