Die VF Plus in die Tshwane-metro sal volgende Donderdag (29 Mei) ʼn dringende mosie voor die metroraad bring om Streek 4 in Centurion as ʼn plaaslike rampgebied te verklaar.
Die doel hiervan is om die owerhede te dwing om die verouderde asbes-waterpypinfrastruktuur te vervang en sinkgate te herstel.
Die mosie volg nadat talle mense se lewe twee weke gelede in gevaar gestel is met die vorming van ’n groot sinkgat in Langerbrinkstraat en Burgerlaan, Lyttelton.
Krag- en watertoevoer na die gebied is dadelik afgesny aangesien beskadigde waterpype veroorsaak het dat water in die sinkgat begin vloei het.
Lekkende ondergrondse waterpype verbrokkel dolomitiese grond waarna sinkgate gevorm word.
Lyttelton is een van die oudste gedeeltes van Centurion wat nog van asbeswaterpype gebruik maak. Die verouderde en vervalle waterinfrastruktuur is jare lank verwaarloos en feitlik geen instandhouding het plaasgevind nie.
Tans is 63 sinkgate in streek 4 getel wat bestaan uit groot gedeeltes van Centurion – Irene in die ooste, Olievenhoutbosch in die suide en die Rhens-natuurreservaat in die weste.
Die omvang en verspreiding van sinkgate vereis onmiddellike ingryping en daarom is dit belangrik dat die gebied tot plaaslike rampgebied verklaar word om befondsing en hulpbronne van die Gautengse provinsie en selfs die nasionale tesourie te bespoedig ten einde infrastruktuur te vervang en sinkgate te rehabiliteer.
Die doel van die mosie is om te voldoen aan die vereiste dat elke sfeer van regering n bepaalde gebied tot rampgebied verklaar alvorens toekenning uit die nasionale rampfonds ontvang word.
Die party versoek ook dat ʼn uitvoerbaarheidstudie gedoen word om kostebeplanning te bepaal vir die herstel van die sinkgate sodra die vervalle infrastruktuur vervang is.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die metro te oortuig om die saak as ernstig te beskou om verdere sinkgate te voorkom en inwoners se veiligheid te verseker.