Die krag na die Laerskool Krugerpark in Potgietersrus is herstel ná ingryping van die VF Plus op provinsiale vlak.
Die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit het gister (21 Mei) die krag na dié skool afgesny weens beweerde “historiese skuld”.
Volgens die skool is sy diensterekeninge op datum, maar die erfbelasting waarvoor die provinsiale departement van openbare werke verantwoordelik is, is agterstallig.
Die skool het na die VF Plus se raadslid, Elita Wiid, uitgereik om hulp aangesien leerders tans besig is met ʼn toetsreeks en daar ook vandag ʼn sportbyeenkoms by die skool plaasvind.
Die skool het kragopwekkers tot sy beskikking, maar dit is nie sterk genoeg om die driefase-boorgatpomp te gebruik om watertenks vol te maak vir watertoevoer na ablusiegeriewe op die skoolterrein nie.
Die VF Plus het dadelik Limpopo se LUR van openbare werke, paaie en infrastruktuur, mnr. Ernest Rachoene, gekontak. Die kragtoevoer na die skool is sedertdien herstel.
Die departement se woordvoerder, mnr. Witness Tiva, sal ook verdere ondersoek instel om te bevestig of daar enige uitstaande betalings verskuldig is aan die Mogalakwena-munisipaliteit en het aangedui dat die departement dit dienooreenkomstig sal verwerk.