fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Rustenburg bemiddel finansiële verligting vir plaaslike dierebeskermingsvereniging

Die VF Plus in Rustenburg het vandag deelgeneem aan die ondertekening van ‘n nuwe ooreenkoms tussen die dierebeskermingsvereniging (DBV) en die munisipaliteit waarvolgens die munisipaliteit sy finansiële steun aan die organisasie hervat nadat dit in 2019 opgeskort is.

Die munisipaliteit het destyds aangevoer dat hy onder geen verpligting staan om die DBV te ondersteun nie, en dat enige bystand in die verlede bloot donasies was wat hy nie meer kon bekostig nie.

Die VF Plus het sedert 2019 deurlopend druk op die munisipaliteit toegepas om sy finansiële steun aan die DBV te hervat nadat die kwessie onder die party se aandag gebring is.

Die party het sedertdien as bemiddelaar tussen die DBV en die munisipaliteit opgetree en het verseker dat gesprekke en onderhandelings tussen die partye voortgaan om ‘n ooreenkoms vir bystand te verseker.

Die VF Plus is dankbaar dat hierdie volgehoue druk en bemiddeling nou vrugte afgewerp het. Dit sal broodnodige verligting vir die DBV en diere in nood in die omgewing bring.

Die Rustenburgse DBV was sedert 2019 onder erge finansiële druk en was bykans totaal aangewese op fondsinsamelings en donasies uit die gemeenskap om sy werksaamhede te kon voortsit.

Die situasie het in 2020 verder versleg met die Covid-19-pandemie waar baie getroue donateurs hul bydraes moes staak weens ‘n skielike verlies aan inkomste.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas en te bemiddel tussen die munisipaliteit en die DBV om die finansiële bystand te herstel tot die vlak wat gegeld het tot voor die opskorting in 2019.

Dit is verblydend dat hierdie mylpaal vandag kan plaasvind in die tydperk waarin die VF Plus-jeug regoor die provinsie ‘n projek bedryf om dierehawens wat onder druk verkeer, se nood te help verlig.

Navrae: 076 8190 648

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.