fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom inhegtenisname van vyf polisiemanne weens betrokkenheid by veediefstalsindikate

Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van vyf polisiemanne in die Vrystaat nege maande nadat Brendin Horner (22) buite Paul Roux vermoor is en daar ‘n sterk vermoede was dat polisielede by veediefstalsindikate en moontlik by die moord op Horner betrokke was.

Die Valke het die deurbraak gemaak nadat boere van die omgewing volgehou het dat daar polisie-betrokkenheid is.

Die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het na die moord saam met ander belanghebbendes gepraat met die minister van polisie, Bheki Cele, waar inligting oor die aangeleentheid aan hom oorhandig is.

Twee van die boere, mnre. Herkie Viljoen en Jess de Klerk, het destyds aan die spits gestaan van die boere se pogings om die betrokkenes agter die veediefstal te ontbloot en om die nodige inligting aan die polisie te gee.

Die deurbraak volg nadat die Valke vroeër glo ook van die inligting voorsien is, maar daar niks van gekom het nie.

Ontstoke boere het ná die moord op Horner gesê hulle het die inligting oor polisie-betrokkenheid by sindikate langer as ’n jaar tevore reeds aan die Valke oorhandig en gevra dat dit ondersoek moet word.

Die VF Plus sal wil sien dat die lede van die Valke wat destyds die inligting ontvang het, verantwoording moet doen omdat hulle nie opgetree het nie. Dit kon Horner se lewe gered het.

Die party sal ook wil sien dat die saak vinnig en deeglik afgehandel word en dat die skuldiges die swaarste vonnisse moontlik opgelê word. Boere in Suid-Afrika is onder groot druk van ’n onsimpatieke regering terwyl hulle moet stry teen natuurlike elemente en ernstige misdaad soos plaasmoorde en veediefstal.

Plaasaanvalle en -moord is buite beheer en kan nie as gewone misdaad beskou word nie, veral in ag genome die wreedheid wat daarmee gepaard gaan, soos in die geval van Horner.

Die VF Plus is van mening dat hierdie misdaad slegs effektief bekamp sal word indien die regering die erns daarvan erken, dit tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar en spesialiseenhede vir landelike beveiliging op die been bring.
Die VF Plus doen ook opnuut ‘n beroep op die landbougemeenskap om betrokke te raak by plaaslike veiligheidsstrukture en moedig boere aan om hulself binne die wet te beveilig en te verdedig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.