Die Ekurhuleni-metro se elektriese departement het ná druk van die VF Plus eindelik die krag na die PAX Mentis Academy, ʼn skool vir gestremde en outistiese kinders in Kemptonpark, herstel.
Die skool het die probleem op die eerste dag reeds aangemeld, maar die metro het eers ses dae later daaraan aandag gegee.
Omdat outistiese kinders in die huis gehuisves word, mag geen gasapparaat gebruik word nie en kinders moes in die donker en koue oorleef.
Die VF Plus het ingegryp en druk op die elektriese departement geplaas om die kabelfout te herstel.
Die metro het uiteindelik gehoor gegee en ʼn privaat kontrakteur aangestel. Die kabelfout is binne ʼn paar uur herstel.
Ekurhuleni se elektriese departement roem daarop dat hy kragprobleme binne 48 uur oplos. Dit is duidelik nie die geval nie.
Die VF Plus het voorheen al die departement gevra om tegniese personeel se oortyd strenger te bestuur om te verseker dat daar dag en nag ʼn tegnikus beskikbaar is om kragprobleme op te los.
Die onsimpatieke houding van die metro teenoor weerlose kinders is onverskoonbaar.