Die VF Plus het in ʼn parlementêre vraag aan die minister van polisie, Bheki Cele, geëis dat hy ʼn onomwonde versekering aan Suid-Afrikaners gee dat die polisie se openbare orde-eenhede (Pops), behoorlik toegerus en opgelei is om gemeenskappe teen oproer te beskerm.
Dit volg nadat Cele in antwoord op ʼn vorige parlementêre vraag aangevoer het dat hy weens veiligheidsredes nie enige inligting rondom die stand van toerusting van polisielede kan verskaf nie.
Hy het gesê dat die bekendmaking van enige inligting oor die beskikbaarheid, aanwending, en ontplooiing van menslike- en fisieke hulpbronne polisie-aktiwiteite en die veiligheid van lede sal kompromitteer.
Dit is bekend dat die polisie in die algemeen swak toegerus is en dat lede verlede jaar inderhaas oorgeplaas is na Pops-eenhede in reaksie op die onluste in KwaZulu-Natal onluste.
Teen hierdie agtergrond is die minister se skynbare poging om agter vertroulikheid te skuil om gebreke in die polisie te verbloem, onaanvaarbaar.
Suid-Afrikaners is geregtig op ʼn goed opgeleide en toegeruste polisiemag om hul lewe en eiendom te beskerm.
Dit is des te meer noodsaaklik in die lig van toenemende geweldsmisdaad en die plundering van privaat-eiendom wat met gevalle van openbare oproer gepaardgaan.
Die VF Plus sal voortgaan om die ANC-regering se skynbaar onverskillige houding jeens Suid-Afrikaners se veiligheid en die beskerming van persoonlike eiendom te ontbloot.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.