Die VF Plus in Kemptonpark moes Maandag dringend ingryp nadat ʼn gebarste waterpyp in Birchleigh veroorsaak het dat strome water in Lindequelaan afvloei en ʼn reuse gat in die sypaadjie veroorsaak.
Die waterpyp het twee dae gelede gebars en is vandag herstel ná die aanhoudende druk van die VF Plus op die Ekurhuleni-metroraad se departement van water.
Sedert 1 Januarie het die VF Plus reeds 35 waterlekkasies in Kemptonpark by die departement van water aangemeld.
Die syfer kan veel hoër wees as in ag geneem word dat inwoners ook klagtes by die metro se dienssentrum aanmeld.
Dit is ʼn skande dat kritieke infrastruktuur in Kemptonpark toegelaat is om te verval en dat inwoners vir lang tye sonder water moet klaarkom.
Water is ʼn kosbare kommoditeit en dit is onaanvaarbaar dat die metro se reaksietyd so traag is met die herstel van lekkasies.
Die VF Plus het die ANC/EFF-regering verlede jaar gemaan dat instandhoudingsbegroting nie voldoende is om infrastruktuur te onderhou nie.
Om gereelde waterlekkasies te vermy, moet die metro behoorlike begrotingsaanpassings maak om groot dele van die waterinfrastruktuur te vervang.
Die VF Plus sal weer gedurende die begrotingsvoorlegging praktiese aanbevelings aan die metro maak om die verval te stop.
Inwoners van Kemptonpark betaal immers vir dienste en daarom is dit onregverdig dat hul krane telkens opdroog terwyl duisende liters drinkwater in die strate afloop.
Kemptonpark se inwoners verdien beter.
Inwoners word aangemoedig om diensleweringsprobleme in Kemptonpark by Jean Kriek by die volgende nommer aan te meld: 079 224 7321.


