Die Ekurhuleni-metroraad se EFF-speaker, Nthabiseng Tshivhenga, hou nie by haar eie beloftes nie wat meebring dat dié munisipaliteit nie betyds aan noodsaaklike wetgewing voldoen nie.
Die speaker het tydens ʼn ontwrigte raadsvergadering op 30 November 2023, waar ʼn bakleiery uitgebreek het, onderneem om binne sewe dae ʼn buitengewone raadsvergadering te belê.
Die vergadering is voortydig deur die speaker verdaag weens haar onvermoë om die situasie in bedwang te bring.
Gedurende die vergadering moes ʼn ongeouditeerde jaarlikse finansiële verslag aan die raad voorgelê word wat aan die ouditeur-generaal (OG) gestuur moet word. Die dokumente is ter voorbereiding van die OG se verslag wat aan die einde van Januarie voor die raad moet dien.
Die VF Plus is onseker of die verslag wel, ten spyte van die feit dat dit nie eers deur die raad goedgekeur is nie, aan die OG se kantoor gestuur is omdat die speaker nie reageer op versoeke om duidelikheid oor die aangeleentheid te kry nie.
Die speaker se gedrag om in gebreke te bly aan haar belofte, vertraag ook die afhandeling van ander omstrede items soos die metro se institusionele oorsig en munisipale diensleweringstandaarde.
‘n Verdere slag weens hierdie onnodige vertraging is dat die metro aan die begin van ‘n nuwe jaar steeds nie die jaarlikse munisipale kalender kon goedkeur nie.
Onder behoorlike leierskap word hierdie kalender normaalweg reeds die vorige jaar goedgekeur ter voorbereiding van die komende jaar. Dit is duidelik nie vir die EFF/ANC-regering in Ekurhuleni ʼn prioriteit nie.
Die VF Plus het reeds op 7 Desember ʼn dringende brief aan Tshivhenga gestuur en haar versoek om aan die wetlike vereistes te voldoen, en om ‘n buitengewone vergadering te belê om die totale ophoop van munisipale kwessies uit die weg te ruim wat eenvoudig geïgnoreer word.
Die VF Plus sal nie ingee nie en voortgaan om druk op die speaker te plaas om aan die staande orde reëls te voldoen sodat ʼn raadsvergadering binne kort kan belê word.


