Die VF Plus is gekant teen die uitstel van die munisipale verkiesing wat op 27 Oktober vanjaar sou plaasvind. Die verkiesingskommissie (OVK) maak moontlik ’n fout in sy aanname dat ’n volgende golf van Covid-19 in daardie tydperk sal uitbreek.
In teenstelling met die OVK se siening hieroor, is daar ander geloofwaardige projeksies wat toon dat die volgende golf nie rondom Oktober gaan wees nie, maar teen middel Desember tot in Januarie aanstaande jaar.
Daar is geen sekerheid hieroor nie, maar indien die Desember/Januarie-projeksie wel akkuraat is, kan dit veel meer ongeleë wees indien die verkiesing vroeg in die jaar sou plaasvind.
Wat die OVK se besluit aanbetref, sien die VF Plus rooi ligte flikker. Daar bestaan ’n grondwetlike bepaling oor verkiesings wat dit duidelik maak dat ’n volgende verkiesing nie later nie as negentig dae van die jaardatum van die vorige verkiesing gehou moet word.
Indien die Grondwethof sou toelaat dat sekere bepalings van die Grondwet nie uitgevoer word nie, kan situasies in die toekoms ontstaan waar ander verkiesings op nasionale en provinsiale vlak om sekere redes ook uitgestel kan word. Dit kan ’n presedent hiervoor skep.
Dit sou ’n ernstige verbreking van Artikel 1 van die Grondwet wees wat juis moet verseker dat die land se demokratiese bestel gehandhaaf en beskerm moet word en dat gereelde verkiesings die kern hiervan vorm.
Artikel 1 kan slegs verander word met ’n meerderheidsbesluit van 75% in die parlement.
Politieke partye kan onder die huidige omstandighede steeds werwing doen deur ander metodes as direkte kontakbesoeke. Die internasionale standpunt is ook dat verkiesings steeds vry en regverdig kan plaasvind al kan daar nie op die normale wyse werwing gedoen word nie.
Die VF Plus se standpunt is dat plaaslike regering in Suid-Afrika weens die ANC se swak dienslewering in so ’n haglike toestand is dat kiesers so gou as moontlik die geleentheid moet kry om verandering teweeg te bring.