fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus tree in gesprek met burgemeester van Tshwane oor onbeheerde uitbreiding van informele nedersettings

Die VF Plus in die Tshwane-metroraad gaan met die burgemeester, Randall Williams, in gesprek tree om oplossings te vind en daadwerklik op te tree om die onbeheerde uitbreiding van informele nedersettings aan die ooste van Pretoria beter te beheer.

Indien daar nie nou opgetree word om brandgevare te voorkom, misdaad te bekamp, onwettige immigrante uit te hou en basiese dienste te verskaf aan die nedersettings nie, is nog ‘n tragedie soos dié in Plastic View, ook bekend as Woodlane Village, onafwendbaar.

Drie inwoners van Plastic View het op 17 Julie gesterf en talle is dakloos gelaat nadat ‘n brand in die nedersetting uitgebreek het.

Daar woon sowat 1 000 mense in Plastic View waarvan minder as 20% Suid-Afrikaanse burgers is.

Alhoewel die metroraad basiese dienste aan die inwoners verskaf, leef die meeste mense in haglike toestande wat nie net ‘n gesondheidsgevaar inhou nie, maar ook ‘n omgewingsrisiko is.

Die misdaadsituasie is ook besig om hand uit te ruk.

‘n Soortgelyke situasie bestaan by Wolwespruit op die hoek van Solomon Mahlangu- en Delmasweg. Dié informele nedersetting grens aan Erasmuskloof, Wingatepark en Moreletapark.

Die VF Plus het reeds ‘n griefskrif namens dié gemeenskappe by die metroraad se petisie-komitee ingehandig aangaande inwoners van aangrensende woonbuurte se vrese en vrae oor wat die metroraad gaan doen om die toename in misdaad in die omgewing van Wolwespruit te bekamp asook om die onbeheerde uitbreiding van die nedersetting en die toestroming van onwettige immigrante te voorkom.

Die VF Plus sal onverpoos in die Tshwane-metroraad vir inwoners intree om ‘n oplossing vir die probleme te vind.

Navrae: 083 448 9473

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.