fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus gekant teen Konsepwysigingswetsontwerp op die Regulering van Private Sekuriteitsindustrie

Die Konsepwysigingswetsontwerp op die Regulering van die Private Sekuriteitsindustrie is ondeurdag en gegrond op gebrekkige inligting oor aandeelhouding deur buitelandse maatskappye asook oor moontlike werkverliese, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Oor aannames dat ‘n buitelandse aandeelhouding van meer as 50% ‘n gevaar vir staatsveiligheid in Suid-Afrika inhou, sê dr. Groenewald  dit is eerder misdadigers in die polisie, soos lt. Genl. Richard Mdluli (gewese hoof van misdaad-intelligensie) wat ‘n gevaar vir staatsveiligheid inhou.

“Die grootste verantwoordelikheid van wetgewerlede is om ‘n ingeligte besluit in die beste belang van die publiek te neem. ‘n Besluit oor hierdie konsepwysigingswetsontwerp is nie ‘n ingeligte besluit nie.

“Daar kon nie aan die portefeuljekomitee belangrike inligting gegee word oor hoeveel aandeelhouding daar is deur buitelandse maatskappye, of oor moontlike werkverliese in die industrie nie. Daar is nie navorsing oor gedoen nie.

“Daar is gevestigde belange van maatskappye op die spel en hierdie wysigingswetsontwerp gaan veroorsaak dat ons as wetgewerslede met rooi gesigte sit wanneer die wet in die grondwethof gaan eindig,” sê dr. Groenewald.

Oor Mdluli sê hy die ANC stel mense aan oor hul lojaliteit aan die party, en nie ‘oor hul vermoë om hul werk te doen nie’.

“Die impak van die konsepwysigingswetsontwerp is van so aard dat dit mense hul werk kan en gaan kos. Dis nie die industrie se skuld dat hulle geld maak uit die misdaadsituasie in Suid-Afrika nie. Hulle floreer juis daaroor.

“Daar is drie sekuriteitswagte vir elke polisieman as gevolg van die feit dat die ANC-regering nie sy grondwetlike plig nakom om die publiek te beskerm teen misdadigers nie. Nou moet die publiek dubbel betaal vir hul veiligheid,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.