Die tyd het aangebreek vir Suid-Afrikaners om die onheilspellende werklikheid raak te sien van ‘n fyn beplande ANC-strategie om op ‘n oënskynlik wettige wyse alleenreg te verkry op alle eiendom in Suid-Afrika sonder vergoeding, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Adv. Alberts sê die VF Plus het einde verlede jaar met die publisering van die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggers in die staatskoerant reeds ernstig gewaarsku teen die gevare verbonde aan die wetsontwerp.
“Die Instituut vir Rasseverhoudinge bevestig nou ons vertolking. Veral saamgelees met die beoogde wetgewing wat grondeise weer wil heropen, is geen eiendom veilig nie. Die VF Plus het verlede jaar gewaarsku hierteen en gesê dit is kritiek en daar is kommer om grondige redes.
“Ons doen weer ‘n beroep op alle regdenkende Suid-Afrikaners om hiervan kennis te neem en om saam met die VF Plus op elke vlak te organiseer om dit teë te staan.
“Ons is die enigste party wat teen grondhervorming in sy huidige vorm gekant is aangesien dit teenproduktief is, daar onomwonde bewys is dit misluk (9 uit 10 plase) en daar nie geld is vir die stroom nuwe eise wat verwag word nie. Dan moet bestaande eise ook afgehandel word.
“In die jongste beleidstuk van die Instituut vir Rasseverhoudinge word daarop gewys dat die publiek nie na behore oor die uitwerking van die wetsontwerpe ingelig is nie en dat die gevare daaraan verbonde byna ‘ongesiens’ verbygegaan het.
“Die Instituut waarsku ook dat die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggers allermins die beskerming van beleggers of eiendom ten doel het en daar is verskeie goed verskuilde klousules wat die staat die reg gee om beslag te lê op enigiets in privaatbesit. Van myne, banke en plase tot jou hond of kat.
“Die deur hiervoor is oopgemaak met ‘n uitspraak in die Grondwethof verlede jaar waar eiendom (‘n myn) met mineraleregte genasionaliseer is. Die hof het bepaal dat die staat die voog (custodian) van die eiendom is en nie daarvoor hoef te betaal nie
“Een van die verskuilde klousules bepaal in hierdie geval dat die staat wel blote voogdyskap van eiendom kan neem. Die Grondwethof se uitspraak het dus wetlike begronding ten aansien van die klousule verskaf.
“Die staat mag dus op enige eiendom beslag lê, en dit net in ‘voogskap’ hou om later tot sy voordeel oor te dra aan wie hy wil.
“Die Instituut meld dit is moontlik dat die duisende plase en ander eiendom wat deur die nuwe grondeise in gedrang kan kom, op hierdie manier ‘wettiglik’ deur die staat in ‘voogskap’ geplaas kan word voordat dit aan grondeisers oorhandig word.
“Almal het reeds gesien waartoe die ANC in staat is. Almal in die sake- en landbousektor moet nou hieroor besin en met die VF Plus hande vat om te keer dat die planne in werking gestel word,” sê adv. Alberts. Die VF Plus sal in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid sterk kapsie maak teen die inhoud van hierdie wetsontwerp.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403