Dit is onaanvaarbaar dat die departement van Finansies R6 miljoen vir regskoste betaal in hofgedinge waarin die regering die aanvegbare e-tolstelsel probeer regverdig. Hierdie bedrae sluit nie die regskoste van SANRAL en die departement van Vervoer in wat ook partye in die hofgedinge was nie. Die bedrag wat belastingbetalers uiteindelik moet opdok vir die onnodige hofgedinge kan nog etlike miljoene beloop,” sê Adv. Anton Alberts, die parlementêre woordvoerder oor vervoer vir die Vryheidsfront Plus.
“Die VF Plus gaan die Openbare Beskermer (OB) vra om ondersoek in te stel na die bedrae wat die department van Finansies aan regslui betaal het in elk van die onderskeie hofsake. Die buitensporige rekeninge vir regslui in die hofsake is ‘n vermorsing van belastingbetalers se geld. Die vraag kan met reg gevra word waarom die staat van sulke duur regslui gebruik maak wanneer daar vele ander advokate is wat goedkoper tariewe het en net so bevoeg is as die wat die staat gebruik het.
“Die VF Plus, as lid van die Tolhek Aksiegroep (TAG) wag steeds vir die rekeninge van regslui wat namens die departement van Vervoer en SANRAL in die hofgedinge opgetree het. Die VF Plus sal hierdie rekeninge bekend maak sodra dit ontvang is en dit ook na die OB verwys om saam met die van die departement van Finansies ondersoek te word.
“Die regering kon die bedrae wat aan regslui betaal is eerder aanwend om sinvolle oplossings te soek om die e-tolstelsel te finansier. Dit blyk uit die buitensporige rekeninge dat die regering nie skroom om onverskillig met belastingbetalers se geld om te gaan om onpopulêre en onnodige beleidsbesluite op belastingbetalers af te dwing nie. Die VF Plus sal daarom voortgaan in sy stryd om die regering te dwing om alternatiewe metodes te vind om die skuld vir die e-tolstelsel te betaal,” het Adv. Alberts gesê.
Kontaknommer: 082 391 3117