Die VF Plus is ten sterkste gekant teen pogings van die ANC om die Verkiesingskommissie (OVK) se kandidaat-nominasieproses vir die komende plaaslike verkiesing te laat heropen bloot omdat die ANC nie in staat was om sy kandidatelyste vir die verkiesing betyds by die OVK in te handig nie.
Die VF Plus en ander partye kon betyds al hul kandidatelyste indien en daar is geen verskoning waarom die ANC dit nie ook betyds kon doen nie.
Dit sou uiters onbillik wees teenoor die ander partye wat wel by die spertyd gehou het indien die kieshof gehoor sou gee aan die versoek van die ANC. In vorige verkiesings, insluitend plaaslike verkiesings, was daar gevalle waar partye en kandidate gediskwalifiseer was omdat hulle nie die sperdatums gehaal het nie.
Dit sal daarom onbehoorlike bevoordeling van die ANC wees indien die kieshof wel dié party se aansoek handhaaf.
Een voorbeeld is die Nasionale Vryheidsparty (NVP) wat in 2016 sy deposito’s om aan die plaaslike verkiesing deel te neem, laat betaal het en op grond daarvan gediskwalifiseer was om deel te neem. Dié party het hom ook na die kieshof gewend waar sy aansoek om ná die sperdatum sy deposito’s te betaal, van die hand gewys is.
Die feit dat die ANC nie in staat was om sy personeel se salarisse die afgelope drie maande te betaal nie, is een van die groot redes waarom die ANC nie sy lyste betyds gereed kon kry om in te dien nie.
Hierdie onbevoegdheid van die ANC het lank reeds die norm geword van die wyse waarop hy as regering op alle vlakke regeer.
Dit is ironies dat ‘n party, wat nie bevoeg is om sy nominasielyste te voltooi nie, van die publiek verwag om vir hom te stem.