Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gekant teen enige vorm van diskriminasie teen vroue, maar vra dat meriete bepalend moet wees

Die VF Plus is gekant teen enige vorm van diskriminasie teen vroue en glo daar moet gelykheid tussen mans en vroue wees solank meriete steeds die kriterium bly met aanstellings en bevorderings, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus-hoofsweep.

Dr. Mulder het vandag met die tweede lesingsdebat van die Wetsontwerp op die Bemagtiging van Vroue en Geslagsgelykheid, gesê mense raak moeg vir die sogenaamde 'goeie stories' wat die ANC vertel, en dat die beoogde wet juis dui op die mislukking van die regering om die enorme potensiaal te ontsluit van alle mense in die land. 

“Die ANC het nie daarin geslaag om al die land se inwoners – mans en vroue van alle rasse – te laat saamwerk nie en nou probeer hulle dit kunsmatig met hierdie wet doen.

“Sodoende wil hy met hierdie wet dit bewerkstellig dat ‘n jong seun vroue en dogters respekteer. Jy het nie ‘n wet nodig om jou kind respek te leer nie. Doen dit net.

“Jy kan sekere dinge nie met wette regkry nie. Daar kan ‘n wet gemaak word wat sê die son moet in die noorde opkom en in die suide ondergaan, maar dit sal nie gebeur nie,” het dr. Mulder gesê.

Hy het ‘n paar vroue as voorbeeld van meriete uitgesonder en gesê Nkosazana Dlamini-Zuma het die top-posisie in die Afrika-Unie bereik. Geraldine Fraser-Moleketi beklee ‘n senior posisie in die Verenigde Nasies en Maria Ramos by Barclays Africa.

“Hulle het dit op meriete bereik. As hierdie wet deurgaan, sal vroue weens kwotas in hoë poste beland, nie op meriete nie. Die agbare minister (Lulu Xingwana) sal daaroor moet dink as sy vanaand huis toe gaan. Is sy ‘n kwota-minister, of is sy ‘n meriete-minister?

“Die ANC probeer die onmoontlike met hierdie wet vermag. Hy dwing dit deur die parlement en die stelsel. Jy kan sekere goed nie afdwing wat normaal moet gebeur en wat in die hart en verstand van alle Suid-Afrikaners moet wees nie. Dit gaan oor blote vertoon (window dressing).

“Minister, u sê die ANC is die enigste party wat ‘n 50% verteenwoordiging van mans en vroue deur al sy strukture het. Is dit die geval op u nasionale kandidatelys van posisie nommer een, of eers vanaf die tagtigste posisie? Ek sal vir u antwoord hierop wag,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.