Die leier van die VF Plus in Gauteng, mnr Jaco Mulder, het vandag die party se premierskandidaat vir die komende algemene verkiesing tydens 'n mediakonferensie by die party se Hoofkantoor bekend gemaak.
Advokaat Anton Alberts, VF Plus-LP, lid van die party se uitvoerende dagbestuur en onderleier van die party in Gauteng, is tydens die party se nominasiehof vir Gauteng Saterdag as die premierskandidaat aangewys. Hy sal mnr. Jaco Mulder, sittende LPW en leier van die VF Plus in Gauteng, opvolg wat namens die party vanuit Gauteng vir die nasionale vergadering genomineer is.
Alberts wat reeds sedert die ontstaan van die VF Plus in 1994 by die party betrokke is, was tussen 1998 en 2001 die hoof van Besigheid- en Regsaangeleenthede van M-Net. Hy is getroud met Marga en woon in Pretoria.
Hy is verder bekend daarvoor dat hy namens die VF Plus ondermeer die aksie teen die Gauteng se e-tolstelsel voer asook die Transnetpensioenfondssaak wat tans prominent in die media figureer.
In 'n onafhanklike meningspeiling wat gedurende November 2013 deur IPSOS vrygestel is, word aangedui dat die VF Plus wat sedert 2009 die derde grootste opposisieparty in die Gautengse Wetgewer is, reeds meer as 22 persent groei in die provinsie.
Die VF Plus het onder andere tot nou reeds sukses behaal deur die regering hof toe te sleep oor die instelling van e-tol, Transnet deur 'n regsspan voor die hof te daag in die grootste siviele geding in die Suid Afrikaanse regsgeskiedenis, vir die behoud van die Pretoria-naam te veg, die Kleinfontein-gemeenskap te beskerm en die afbakeningsraad aan te vat oor die beoogde verskuiwing van munisipale grense en talle ander kwessies.
Die party sal voortbou op sy reputasie as effektiewe opposisieparty in Gauteng en ook deel vorm van 'n koalisieregering na die verkiesing, indien opposisiepartye meer setels as die regerende ANC behaal.
Die VF Plus is die enigste politieke party in Gauteng wat veg vir die behoud van Afrikaans, moedertaalonderrig, minderheidsregte en teen rasgedrewe regstellende aksie veg.
Kontak: 0824663786