Suid-Afrika is ‘n land van vele uitdagings, maar is ook die toegangsroete vir beleggings in Afrika en bied genoeg geleenthede in die landbou vir investering, samewerking, uitbreiding en handel. Nuwe buitelandse landboubeleggings in Suid-Afrika is tot voordeel van Suid-Afrikaanse landbouers en help met werkskepping
Dit was die sentrale tema van ‘n toespraak wat dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, vanoggend op ‘n internasionale landboukonferensie op Pilanesberg gelewer het. Die konferensie is bygewoon deur van die grootste en suksesvolste boere in onder meer Amerika, Rusland en Portugal.
Dr. Mulder het gesê Suid-Afrika is steeds die ekonomiese reus van Afrika, en indien die huidige tendens voortduur, sal Afrika 'n al hoe groter rol in die wêreld-ekonomie begin speel.
“Teen die jaar 2040 sal een uit vyf van die planeet se jong mense in Afrika woon en sy werkmag sal groter wees as dié van Sjina.
“Veral van belang vir landbouers is dat Afrika byna 60% van die wêreld se onbewerkte landbougrond het en ‘n groot deel van sy natuurlike hulpbronne. Tog lewer hy net 10% van die wêreld se kos terwyl sy verbruikers drie keer vinniger toeneem as dié van die OESO7-lande (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling) en sal kosproduksie dienooreenkomstig moet styg,” het dr. Mulder gesê.
Volgens hom is die groot rede vir Afrika se lae kosproduksie ‘n tekort aan groot kommersiële boerderye. In Afrika is 85% van alle ‘plase’ kleiner as 2 hektaar. In Amerika byvoorbeeld is net 4% van plase kleiner as 2 hektaar. Nuwe modelle moet daarom ontwikkel word om produksie volgens hierdie model te laat werk sonder om kommersiële boere te benadeel. As die beplande Tripartite Free Trade Aria (FTA) in Afrika 'n werklikheid word, skep dit 'n mark van 600 miljoen mense in 26 lande vanaf Kaapstad langs die Ooskus tot by Kairo.
In Suid-Afrika is daar volgens Statistiek Suid-Afrika 47 500 kommersiële boere wat ‘n sleutelrol speel in voedselsekerheid in die land. Die nuutste syfer is nader aan 36 000. Hulle produseer 95% van Suid-Afrika se kos terwyl die orige 5% geproduseer word deur die 220 000 opkomende en 1,3 miljoen bestaansboere.
Die wêreldneiging is verstedeliking met meer as 60% van die wêreld se bevolking wat in stede woon en daarom raak die rol van bestaansboere in voedselsekerheid al hoe kleiner. Dit is duidelik dat die wêreld al hoe swaarder sal leun op industriële landbouers om die globale kosmandjie vol te hou.
In die tydperk 2012/2013 het Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte met 16,4% toegeneem, maar sy invoer het in dié tyd ook met 12,3 toegeneem.
“Dit is belangrik vir die regering om nuwe landbougeleenthede in Suid-Afrika te skep en daarvoor is noue samewerking tussen die landbou- en sakesektore, die regering en buitelandse beleggers noodsaaklik. Dit is ook belangrik dat die regering die regte klimaat skep wat Suid-Afrika ‘n aantreklike opsie vir buitelandse beleggers sal maak,” het dr. Mulder gesê.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403