Nuwe inligting oor maatskappye met Gupta-konneksies se stroping van Transnet-werkers se aftreefondse het daartoe gelei dat die VF Plus die trustees wat op die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) se raad dien en wat direkteure is van Transnet, gaan verkla by die Maatskappyekommissie en versoek dat hulle onbevoeg verklaar word om as direkteure te dien.
Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, sê hierdie stap is dwingend nadat dit bekend geword het dat die TTVVF ‘n eis ingestel het teen die maatskappy Regiments Capital vir onwettige betalings aan Trillian en Albatime. Al die maatskappye is Gupta-gekonnekteerde maatskappye.
Hy sê dit is skokkend dat, gegewe die verarming van die pensioenarisse weens Transnet se stroping van hul bates en die nie-betaling van historiese skuld, die Transnet-aangestelde trustees die arrogansie gehad het om Gupta-gekonnekteerde maatskappye naby die TTVVF toe te laat om dit sonder gewete te stroop.
“Dit is nou ook duidelik dat nog fondse uit die karige pensioenfonds van Transnet-pensioenarisse verduister is. Die feit dat die TTVVF nou dagvaar vir die verlore geld is te min en te laat.
“Die VF Plus het verskeie parlementêre vrae in dié verband gerig aan die minister van openbare ondernemings, Lynne Browne.
“Sy sal ook verantwoordelikheid hiervoor moet neem aangesien die VF Plus oor die afgelope jaar talle vrae gerig het oor die aanstelling van Regiments as die TTVVF se fondsbestuurder en die antwoord elke keer was dat alle noulettendheids-ondersoeke na behore gedoen is voor die aanstelling.
“Dit blyk nou dit was inderdaad nie behoorlik gedoen nie met die pensioenarisse wat weer die spit afbyt. Die VF Plus gaan sorg dat die verantwoordelike persone die prys hiervoor betaal,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216