Die VF Plus veroordeel die verhoging van 96% wat die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA)-baas gekry het vir die bestuur van ‘n falende Aarto-stelsel ten skerpste en gaan ‘n klag by die Staatsdienskommissie indien om te ondersoek of die salaris geregverdig is, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Dit is boonop teen die agtergrond van die feit dat die agentskap se effektiwiteit en gevolglik ook sy inkomste drasties afgeneem het in die 2016/17-boekjaar.
In dié tyd het die RTIA se inkomste met 42% of sowat R100 miljoen afgeneem weens die feit dat 63.44% minder boetes uitgereik is. Aarto-boetes is van 5.5 miljoen af tot slegs 2 miljoen.
Adv. Alberts sê die agentskap het onlangs ook slae gekry in die Fines4-hofsaak waarin die regter bevind het dat hy nie sy eie wet nougeset nakom nie. Daar hang steeds ‘n swaard van ‘n moontlike groepsgeding oor die RTIA se kop waar diegene wat Aarto-boetes betaal het, dit kan terugeis.
“Die effek van die hofsaak was dat alle Aarto-boetes wat onprosedureel uitgereik is ongeldig is. Die eise wat dus ingestel kan word, sal ‘n enorme omvang aanneem.
“Dit lyk of dit die gebruik geraak het in Suid-Afrika om mense wat swak presteer, daarvoor te vergoed. Hierdie verhoging kan op geen manier geregverdig word nie en die Staatsdienskommissie sal antwoorde daarop moet gee,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


