fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan MRK nader oor pasiënte se behandeling in staatshospitale

Die VF Plus gaan die Menseregtekommissie (MRK) nader om ondersoek in te stel na die onmenslike wyse waarop pasiënte in staatshospitale behandel word.

Dit volg nadat die party die afgelope jare gereeld klagtes vanaf die publiek ontvang het. ‘n Voorbeeld is die onlangse voorval in die Vrystaat waar ‘n pasiënt reeds sewe maande wag op ‘n prosedure nadat die persoon in ‘n ongeluk betrokke was.

Die VF Plus se LPW in die Vrystaat, Armand Cloete, het ook reeds skrywes in dié verband gerig aan die Vrystaatse LUR vir gesondheid en is tans besig om ‘n oplossing vir die aangeleentheid te vind.

Staatshospitale het sedert die vlak vyf-inperking bitter min operasies uitgevoer en dit het tot gevolg gehad dat ‘n enorme agterstand ontstaan het.

Die VF Plus hanteer ook tans klagtes van pasiënte in Pretoria wat wag op heupvervangings waarvan sommige al twee jaar gelede moes plaasgevind het by die Steve Biko-hospitaal. Pasiënte in ondraaglike pyn word keer op keer huis toe gestuur sonder medikasie.

Benewens klagtes oor behandeling, moes die party die afgelope jare ook telkens ingryp in gevalle waar pasiënte nie kos of water kry nie of in gange of op vloere gelaat word en ure, selfs dae, by hospitale moet wag om opgeneem te word of om selfs net ondersoek te word.

Klagtes is ook al ontvang van kankerpasiënte wat by staatshospitale opdaag om chemo-behandeling te ontvang en nie gehelp kan word nie aangesien hospitale nie nodige middels vir die behandeling het nie.

Die VF Plus is tans besig met ‘n ondersoek na ‘n pasiënt wat by die Steve Biko-hospitaal in ‘n tent dood is sonder behandeling. Die party het reeds die minister van gesondheid, Joe Phaahla, versoek om skriftelike antwoorde hieroor te verskaf.

Die VF Plus het in 2019 op hoogste vlak gemaan dat daadwerklike ingryping moet plaasvind om die krisis wat in staatshospitale heers, reg te stel. Hierdie versoek het op dowe ore geval en die krisis word by die dag erger.

Die VF Plus se standpunt dat Suid-Afrika se openbare hospitale ontaard het in slagpale en lykshuise, bly staan en die jongste voorvalle is ‘n bewys dat die party in hierdie opsig nie verkeerd is nie.

Die dae van praat en waarsku is verby en daar sal nou daadwerklik teen die regering opgetree word om hom tot verantwoording te roep.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.