Die ANC-beheerde Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het gister met die hulp van sekere opposisiepartye die munisipaliteit se onbefondse begroting vir die 2022/23-finansiële jaar goedgekeur.
Die ANC-koalisie, bestaande uit 42 raadslede, het gevra vir ‘n geheime stemming waarna 48 stemme vir die begroting uitgebring is.
Die VF Plus het teen die aanvaarding van die begroting gestem en die raad gewaarsku dat ‘n onbefondse begroting dienslewering verder negatief sal beïnvloed.
’n Onbefondsde begroting wys daar is ’n tekort aan geld en daarom kan geen begroting prakties uitgevoer word nie. Selfs die Gautengse provinsiale tesourie het die begroting gekritiseer.
Die VF Plus het op 1 Junie ‘n kennisgewing gestuur aan die speaker van Emfuleni, Sibongile Soxuza, om haar daarop te wys dat die begroting wat op 31 Mei ter tafel gelê is, ongrondwetlik aanvaar is.
Tydens die vergadering het 42 raadslede uit die 90 verkose raadslede die begroting gesteun. Slegs 64 van die 90 raadslede was teenwoordig met die vergadering.
Volgens Artikel 160(3) van die Grondwet moet die meerderheid raadslede teenwoordig wees en die begroting steun wanneer ‘n munisipaliteit se begroting oorweeg word.
Die raad het ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet tyd tot 30 Junie gehad om die begroting goed te keur voor die aanvang van die nuwe finansiële jaar op 1 Julie.
Die VF Plus kan nie ‘n begroting steun wat belastingbetalers verder onder finansiële druk plaas en wanadministrasie aanmoedig nie.
Emfuleni se krediteure wag reeds langer as 900 dae vir betaling. Die munisipaliteit skuld ook grootmaatverskaffers soos Eskom en Randwater miljoene.
Die ANC-beheerde raad is besig met oëverblindery om sy onbevoegdheid te verdoesel.
Die inwoners van Emfuleni verdien beter as die ANC.