fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwerp aanvaarding van onbefondsde ANC-begroting in JB Marks

Die VF Plus het vandag tydens ‘n spesiale raadsvergadering van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit kapsie gemaak teen die aanvaarding van ‘n ooglopend onbefondsde begroting vir die nuwe finansiële jaar.

Die begroting is boonop aanvaar ná ‘n gebrekkige begrotingsproses wat nie aan die wetlike voorskrifte voldoen het nie.

Die VF Plus het reeds by twee geleenthede die afgelope maand skriftelik beswaar gemaak teen die wetlike onreëlmatighede van die proses in korrespondensie aan die speaker in die raad, Moithoesi Rosy Dassie.

Die party het uitgewys dat die VF Plus en Noordwes se provinsiale tesourie reeds vroeg in die begrotingsproses uitgewys het dat dit ‘n onbefondsde begroting is.

Die geraamde inkomste vir die munisipaliteit in die komende finansiële jaar is totaal onrealisties in die huidige ekonomiese klimaat. Dit is ook duidelik dat die beraamde uitgawes vir die jaar geensins die ekonomiese realiteite weerspieël nie.

Verder word die kernbehoeftes van die Potchefstroom- en Ventersdorp-gemeenskappe duidelik nie in ag geneem nie.

Dit is bekend dat hierdie gemeenskappe lank reeds ly onder die verval van infrastruktuur en kritieke toerusting, maar die JB Marks-munisipaliteit prioritiseer onder meer R1,5 miljoen vir nuwe meublement vir die ANC-leidsliede in die munisipale raad.

Verder word R2,5 miljoen toegewys aan ‘n visplaasprojek waarvan die meerderheid raadslede nie bewus is nie. ‘n Miljoen rand is ook toegewys aan ‘n nuwe ampsmotor vir die burgemeester.

Die voorbeelde van die wanprioritisering van fondse in die begroting is legio.

Die VF Plus sal aanhou stry teen die wanaanwending van belastingbetalers se geld in JB Marks. Hierdie ANC-beheerde munisipaliteit het duidelik sy begrip vir die werklikheid verloor.

Die gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.