Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, het vandag die raadsvergadering verlaat na herhaalde onreëlmatige beslissings deur die speaker, Moithoesi Dassie.
Opposisiepartye is onder meer deur haar verhinder om meningsvol aan die debat deel te neem.
Die speaker se onwettige en ondemokratiese optrede het plaasgevind in ‘n debat wat ‘n mosie van wantroue in haarself en die burgemeester, Gaba Ka Qhele, moes behandel.
Sy het telkens opposisiesprekers geïgnoreer of onreëlmatige beslissings teen die opposisie gemaak.
Dassie het in haar optrede herhaaldelik blatante oortredings gepleeg van die munisipaliteit se raadsreëls en toepaslike munisipale wetgewing.
Dit is skandelik dat die speaker op hierdie wyse nie net die waardigheid van haar amp beklad het nie, maar die hele munisipale raad se geloofwaardigheid in die proses ondermyn het.
Hierdie insident is net nog een van vele skandes wat die gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp al moes verduur in die ANC se bewindstydperk in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit.
Die gemeenskappe in JB Marks verdien beter as die ANC.