fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus steun nie buitensporige tariefverhogings vir Moqhaka nie

Die VF Plus in die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon) het teen die munisipaliteit se begroting vir die 2022/23-finansiële jaar gestem.

Die begroting bevat buitensporige tariefverhogings soos elektrisiteit wat met 8,6% verhoog word.

Dit is ver bo inflasie en gaan vernietigend in die huidige ekonomiese klimaat wees waar inwoners reeds sukkel om hul rekeninge te betaal.

Die munisipaliteit het ook die afgelope drie maande nie sy betalingsooreenkoms met Eskom nagekom nie en versuim om ‘n nuwe afbetalingsooreenkoms aan te gaan. Die uitstaande skuld aan Eskom beloop sowat R80 miljoen.

In die vorige termyn het die raad besluit dat inwoners wat oorskakel na koopkrag, maar ‘n agterstallige kragrekening by die munisipaliteit het, slegs 60% van die krag ontvang wat hulle koop. Die res gaan na die munisipaliteit om die agterstallige bedrag te vereffen.

Daar is dus geld beskikbaar om Eskom te betaal, maar die fondse word vir ander doeleindes aangewend.

Die grootste gedeelte van die begroting gaan vir infrastruktuurinstandhouding en -opgradering. Op die oomblik verloor die munisipaliteit sowat 75% van sy vars water weens lekkasies.

Of die fondse egter reg aangewend gaan word, is te betwyfel. Die munisipaliteit het die afgelope jare slegs waterpype wat bars herstel en nie aandag geskenk aan gewone instandhoudingswerk om kleiner lekkasies te voorkom nie.

Dit het daartoe gelei dat Viljoenskroon, Steynsrus en Brentpark, gereeld sonder water is.

Die munisipaliteit moet eerder daarop fokus om sy invorderingskoers vir uitstaande diensterekeninge te verhoog en toe te sien dat inwoners maandeliks hul munisipale rekeninge ontvang.

Op die oomblik gebeur dit nie en die masjien wat die rekeninge moet druk is boonop weg volgens die munisipale bestuurder.

Die VF Plus en die EFF was die enigste partye wat teen die begroting gestem het.

Die VF Plus kan nie ‘n begroting steun wat belastingbetalers verder onder finansiële druk sal plaas en wanadministrasie aanmoedig nie. Moqhaka verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.