Die VF Plus se voortgesette pogings om die verkeersprobleme by die Franzinastraat-kruising en in aangrensende strate in Eloffsdal in Pretoria op te los, is besig om vrugte af te werp.
Die Tshwane-metro het aan die VF Plus bevestig dat ‘n glybaan oorweeg word om die verkeersvloei te verbeter.
Die VF Plus is maande lank reeds besig om dié verkeersprobleme met die hulp van verskeie departemente van die metro te ondersoek.
Een van die grootste probleme is ongemerkte ingange na Transnet en ‘n private onderneming in Franzinastraat.
Die gevolg is dat vragmotors die ingange te laat sien en skielik begin draai. Dit veroorsaak ongelukke.
Nog ‘n probleem is dat swaar vragmotors wat vanaf die noorde in Mansfieldstraat in Franzinastraat indraai, weekliks die verkeerslig raakry weens die breedte van die pad.
Verkeer wat in Franzinastraat vir die verkeerslig wag moet dan agteruit beweeg voordat hulle om die draai kan beweeg.
Talle motoriste verontagsaam ook die verkeersreëls wat die probleme vererger.
Die situasie moet dringend reggestel word omdat daar verskeie skole, kerke en tehuise vir bejaardes naby die kruising geleë is.
Die VF Plus het ook versoek dat die verkeersdepartement gereeld beamptes by die probleem-areas plaas om die situasie te monitor en om kitsboetes uit te reik aan motoriste wat verkeersreëls verontagsaam.
Die lewe van mense is vir die VF Plus belangrik en daarom word alles gedoen om die pad wat tans swaar verkeer dra, op te gradeer en bykomende verkeerstekens aan te bring.