fbpx
Vryheidsfront Plus

STOP LESUFI: Gebruik verlengde kans om kommentaar op Bela Bill te lewer om Afrikaanse onderwys te red

Die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys het gisteraand besluit dat skriftelike kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Bela Bill) tot 15 Augustus ontvang kan word.

Die VF Plus moedig alle belanghebbendes aan wat nog nie die geleentheid gebruik het nie, om wel voorleggings te maak. Dit is noodsaaklik om Panyaza Lesufi se planne met Afrikaanse onderwys te fnuik.

Hierdie wetsontwerp is reeds in 2017 gepubliseer en is uit die staanspoor omstrede. Dit verskuif die bevoegdheid om 'n skool se taal-, godsdiens- en toelatingsbeleid op te stel, van die skoolbeheerliggaam na die provinsiale departementshoof.

Verder verlaag die wetsontwerp die ouderdom van skoolplig. Terselfdertyd bly die benadering ten opsigte van tuisskole, mikroskole, aanlyn onderwys en ander maniere waarop onderwys buite die geykte praktyke plaasvind, onveranderd. Dit is asof Covid-19 nooit gebeur het nie.

Intussen was Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys en nuwe ANC-voorsitter in die provinsie, doodeerlik oor wat hy wil doen as die wet eers geldig is: Hy wil Afrikaanse skole tot niet maak.

Dit het hy gesê in antwoord op 'n vraag van die VF Plus se nasionale voorsitter, adv. Anton Alberts, in die Gautengse wetgewer.

Die departement van basiese onderwys ontken in sy voorleggings aan die portefeuljekomitee dat die wetsontwerp met die soort doel wat Lesufi stel, opgestel is. Die probleem is dat onderwys 'n provinsiale bevoegdheid is en dat Lesufi se siening die praktyk kan bepaal.

Die reg van gemeenskappe om skole as kultuurinstellings te behou, is 'n kerndeel van die skikking wat in die Grondwet van 1996 vervat is.

Hierdie wetsontwerp is 'n tipiese geval waar die grondwetlike orde verander word, sonder om aan die Grondwet self te raak.

In werklikheid is 'n nuwe onderwyswet noodsaaklik; 'n wet wat die grondverskuiwings as gevolg van aanlyn moontlikhede en ouers se groeiende behoefte om beheer oor hulle kinders se opvoeding te behou, erken. Dit is die teenoorgestelde van wat tans gebeur.

Daarom doen die VF Plus 'n oproep tot alle persone en instellings wat met onderwys te make het, om die verlengde kommentaarperiode aan te gryp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.