Die VF Plus en CapeXit het die afgelope naweek hul samewerking en strewe na ‘n onafhanklike Wes-Kaap formeel bevestig deur ‘n openbare bewusmakingsveldtog en die bekendstelling van ‘n gekombineerde VF Plus/CapeExit-verkiesingsplakkaat.
Die gesamentlike optrede en onthulling van die plakkaat het Saterdag in Langebaan plaasgevind en is geesdriftig deur die publiek ontvang.
Selfbeskikking ingevolge Artikel 235 van die Grondwet is ‘n beleidsmikpunt van die VF Plus. Op sy beurt is CapeXit met ‘n geregistreerde ledetal van meer as 821 000, die grootste burgerlike organisasie in die land wat hom vir ‘n onafhanklike Wes-Kaap beywer.
CapeXit is ‘n nie-politieke beweging wat in Junie 2019 geregistreer as ‘n NWO en is lid van die Organisasie van Opkomende Afrika State.
Mnr. Des Palm van CapeXit het tydens die veldtog gesê die raakpunte van die strewe na onafhanklikheid, asook die feit dat die VF Plus op vier na die grootste party in die land is wat sterk groei toon in die Wes-Kaap, maak hom die ideale vennoot om selfregering te bekom.
Die VF Plus glo ‘n referendum hieroor in die afsienbare toekoms is onafwendbaar en noodsaaklik om die keuse van die provinsie se inwoners hieroor te bepaal. Dit is haalbaar. Hoe meer mense daarop aandring, hoe groter word die moontlikheid dat dit kan realiseer.
Dit is nie nodig om in die Wes-Kaap onderwerp te word aan die onbevoegdheid, korrupsie en verval wat onder die ANC in die res van die land gedy nie.
In die dwangbuis van die huidige eenheidstaat word die wil van die meerderheid bloot afgedwing op minderhede. Dit is geen ware demokrasie nie, maar ‘n tirannie van die meerderheid.
Die doel van die naweek se veldtog was om te wys die VF Plus betoon nie net lippediens aan sy strewe na selfbeskikking nie. Die party sal die pad saam met CapeXit loop om gestalte te gee aan ‘n vrye Wes-Kaap.
Die haalbaarheid hiervan is in die hande van die mense van die provinsie. Hoe harder hulle aan die deur klop, hoe gouer sal dit oopgemaak word.


