fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag teen Lesufi in by integriteitskommissaris weens sy AfriForum-leuens

Die VF Plus het vandag 'n formele klag teen die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, by die Gauteng-wetgewer se integriteitskommissaris ingedien vir die vals beweringe wat hy teen AfriForum gemaak het deur voor te gee dat dié organisasie 'n sluipmoord op hom wil uitvoer en sy familie en kinders agtervolg.

Lesufi het in 'n gesamentlike verklaring met AfriForum gister erken dat die beweringe vals was en het dit teruggetrek. Die vals beweringe deur Lesufi is ernstig van aard en strook nie met die integriteit wat van 'n LUR verwag word nie. Gevolglik het die VF Plus klagte ingedien om te ondersoek of hy kan voortgaan in sy posisie as LUR.

Die klagte wat die VF Plus ingedien het, is gegrond op bepalinge van die gedrags- en etiese kode van die Gautengse wetgewer. Die VF Plus beweer dat Lesufi artikel 5(1) verbreek het deurdat hy die wetgewer opsetlik mislei het aangaande die situasie met AfriForum. Lesufi het ook binne die wetgewer by tye verwys na die gevaar teen sy persoonlike en sy familie se lewe.

Verder het die VF Plus dit gestel dat Lesufi artikel 5(2) verbreek het aangesien sy gedrag onversoenbaar is met sy posisie as 'n LUR wat die hoogste integriteit vereis.

Laastens beskou die VF Plus sy gedrag as 'n verbreking van artikel 5(4) aangesien sy gedrag nie die waardigheid en integriteit van sy posisie as LUR weerspieël nie.

Lesufi het hom oor die afgelope jare skuldig gemaak aan verskeie soorte onwaardige gedrag wat skade veroorsaak het vir lede van die publiek. Daardie voorbeelde sal ook ingedien word by die integriteitskommissaris om aan te dui dat 'n baie ongesonde gedragspatroon bestaan van 'n persoon wat nie die pos van LUR mag beklee nie.

Die VF Plus sal die klag monitor en sorg dat dit enduit met erns behandel word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.