Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe aan die waarnemende premier in Noordwes, Nono Maloyi, daarop aangedring dat brandbestrydingsowerhede in die provinsie met plaaslike brandverenigings koördineer en saamwerk om veldbrande te bestry en te voorkom.
Noordwes word tans geteister deur ʼn reeks verwoestende veldbrande wat reeds duisende hektaar veld verwoes het. Groot getalle wild en vee het ook in die slag gebly en groot omgewingskade is aangerig.
Die negatiewe finansiële impak op die plaaslike landbousektor is enorm.
ʼn Groot leemte in die bestryding van hierdie brande is ʼn gebrek aan gesamentlike beplanning en koördinering tussen plaaslike brandverenigings en brandbestrydingsowerhede in die provinsie. Dít na herhaalde versoeke van die verenigings vir gesprekke en gesamentlike beplanning met die owerhede.
Die noodsaaklikheid van sulke samewerking is voor die hand liggend. Beperkte hulpbronne kan meer doeltreffend aangewend word, risiko’s kan betyds geïdentifiseer word en voorkomende maatreëls om veldbrande te verhoed kan getref word.
Die brandbestrydingsowerhede se onwilligheid om met brandverenigings saam te werk is onverklaarbaar.
Dit is ook ironies omdat ʼn wysigingswetsontwerp van die Nasionale Wet op Veld en Bosbrande tans deur die parlement oorweeg word. Hierdie voorgestelde wetgewing sal juis ʼn verpligting op plaaslike owerhede plaas om deel te vorm en saam te werk met brandverenigings.
Die onverskillige houding van die ANC-owerhede om doeltreffende stappe te neem om lewe en eiendom teen brandgevaar te beskerm is ʼn skande.