Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vullisverwydering ruk tot stilstand in Merafong ná laaste trokke breek

Vullisverwydering in die Merafong City-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) het tot stilstand gekom nadat die enigste twee werkende vullisverwyderingstrokke hierdie week die gees gegee het.

Die ANC-beheerde munisipaliteit het nie geld om die kontrakteur, wat verantwoordelik is vir herstel van die trokke, te betaal nie.

Die VF Plus het die munisipaliteit al telkens gewaarsku om die belange van inwoners eerste te stel en dienstegeld en belastings vir dienslewering aan te wend en nie te vermors nie. Dit val egter op dowe ore.

Die beste wat Merafong kon doen is om ʼn brief aan inwoners te stuur waarin gevra word om nie vullis onwettig te stort nie en die vullisdromme in hul erwe te hou tot die vullisverwyderingsdiens kan voortgaan.

Die munisipaliteit kan egter nie ʼn datum gee wanneer vullisverwydering sal hervat nie.

Onwettige vullisstortings vind reeds op grootskaal plaas wat tot rotteplae lei en ʼn gesondheidsgevaar is vir inwoners.

Inwoners van Merafong gaan al vir maande gebuk onder gebrekkige vullisverwydering aangesien die twee trokke weke geneem het om by al die strate in die munisipaliteit uit te kom.

Dit is bloot onaanvaarbaar dat inwoners vir dienste moet betaal wat hulle nie ontvang nie weens die ANC se wanbestuur van die munisipaliteit.

Die VF Plus sal aanhou druk op die munisipaliteit plaas om die kontrakteur te betaal om die vullistrokke te herstel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.