Die VF Plus veroordeel die betogings wat sedert Woensdag in Mpumalanga plaasvind in protes teen die stygende brandstofprys en eis dat die owerhede optree teen diegene wat ontwrigting veroorsaak.
Taxibestuurders en vragmotors het verskeie roetes in en uit Mpumalanga en in die besonder na Mbombela (Nelspruit) se sakekern versper.
Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners van Mpumalanga se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word om 'n voortbestaan vir almal te verseker. Naas die publiek se persoonlike veiligheid moet ekonomiese veiligheid ook 'n prioriteit wees.
Gemeenskapslede rondom Mbombela, Barberton, Matsulu, Ngodini, Hazyview, Witrivier en omliggende gebiede het intussen by die betoging aangesluit.
Die meeste sakeondernemings kon sedert Woensdag nie oopmaak nie, aangesien werknemers nie by die werk kon uitkom nie.
Hierdie betogings en die sluit van nasionale- en provinsiale paaie in die provinsie beïnvloed die ekonomie uiters negatief aangesien klein- en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer.
Almal in die provinsie voel steeds die gevolge van die Covid-19-pandemie en hierdie betogings kan nie bekostig word nie.


