Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nalatigheid van JB Marks-munisipaliteit lei tot versperring van N12 in Potchefstroom

Die nalatigheid van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit het direk aanleiding gegee tot die versperring van die N12 deur gefrustreerde inwoners van Ikageng in Potchefstroom wat reeds vir drie weke sonder water is.

Die probleme met watervoorsiening aan die Ikageng-, Mohadin- en Promosa-woonbuurte het ontstaan weens swak onderhoud aan die watervoorsieningsnetwerk.

Benewens die gebrek aan instandhouding van hierdie kritieke infrastruktuur, is dit ook duidelik dat die munisipaliteit geen gebeurlikheidsplan in plek het om doeltreffend tydelike dienste te verskaf in gevalle waar infrastruktuur meegee nie.

Daar is ook nie genoeg watertenkwaens in ‘n werkende toestand om tydelik die waternood in hierdie woonbuurte te verlig nie.

Die munisipaliteit het ook nie die nodige toerusting of voorraad in plek om dringende herstelwerk te doen nie en moet deur omslagtige verkrygingsprosesse kontrakteurs aanstel om die werk te doen. Dít terwyl talle munisipale amptenare in tegniese dienste ledig sit.

Intussen word nie net die Potchefstroomse gemeenskap nie, maar reisigers en sakelui van regoor die land ontwrig deur hierdie versperring van ‘n nasionale hoofroete.

Reisigers word gedwing om lang ompaaie te ry om veilig by hul bestemmings te kom. Padgebruikers ly groot finansiële verliese in die proses en skaars polisie-hulpbronne moet ontplooi word om die situasie in bedwang te hou terwyl misdaad elders gedy.

Die N12 en ander hoofroetes in Noordwes word gereeld versper deur protesoptredes weens gebrekkige dienslewering van ANC-beheerde munisipaliteite.

Die wanbestuur en verval van infrastruktuur in hierdie ANC-munisipaliteite hou van die grootste enkele bedreigings vir Noordwes se ekonomie in.

Die VF Plus bly in noue kontak met die owerhede en pas deurlopend druk toe om te verseker dat die situasie so vinnig moontlik besleg word.

Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.