Die koalisieregering in die Ekurhuleni-metro, waarvan die VF Plus deel is, se besluit om geregistreerde behoeftiges se basiese gratis elektrisiteit van 100kw na 50kw te verminder, kon nie langer uitgestel word nie.
Die besluit moes noodgedwonge geneem word weens die vorige ANC-regering wat die metro se finansies in ‘n benaderde toestand gelaat het en ook geen opgradering aan die kraginfrastruktuur gedoen het nie.
Geregistreerde behoeftiges en inwoners wat as behoeftiges beskou is, het in die verlede 50kw gratis basiese elektrisiteit volgens die nasionale beleid vir gratis basiese elektrisiteit ontvang en ‘n verdere 50kw van die metro.
Die stelsel is ook vir jare misbruik deur mense wat nie geregistreerde behoeftiges is nie en ook 100kw gratis elektrisiteit ontvang het.
Die metro het sowat R4,5 miljard per jaar bestee aan die voorsiening van basiese elektrisiteit aan geregistreerde behoeftige en huisgesinne wie se eiendomwaardasies minder as R250 000 is.
Die metro kan dit nie langer bekostig nie en moes die nodige aanpassings maak om fondse beskikbaar te stel vir onderhoud en opgradering van die kraginfrastruktuur.
Die VF Plus moedig behoeftige huisgesinne aan om van die registrasieproses gebruik te maak om te kwalifiseer om met hul eerste kragaankope 50kw elektrisiteit gratis te ontvang.
Geregistreerde behoeftiges kwalifiseer ook vir 6kl gratis water per maand, gratis begrafnisdienste, gratis vullisverwydering en ‘n spesiale tarief vir ambulans- en brandweerdienste.