Die VF Plus doen ’n beroep op die polisie om dringend op te tree in verband met ’n onwettige grondbesetting op die plaas Rooikraal naby Harrismith.
Die betreders beweer glo hulle het toestemming van die selfverklaarde “koning” van die Bakholokoe-stam, Letsitsa Moloi III, om die grond te beset.
Die eienaars het Saterdag op ongeveer 15 onwettige besetters afgekom wat reeds in bestaande strukture op die plaas ingetrek het.
Twee van die betreders is met die hulp van ’n privaat sekuriteitsmaatskappy vasgekeer en aan die polisie oorhandig. Ten spyte van die blatante oortreding, is die twee persone deur die polisie vrygelaat nog voordat die boere by die polisiekantoor kon aankom om ‘n formele klag van betreding in te dien.
Daar was glo in 2018 ook ‘n poging om die grond te beset deur een van die kinders van Moloi.
In die huidige geval is daar glo selfs vee in die teenwoordigheid van die polisie op die plaas afgelaai. Sover die VF Plus kon vasstel, is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Die polisie het ’n grondwetlike plig om die regte van wettige grondeienaars te beskerm en teen onwettige betreders op te tree. Die versuim om betyds in te gryp lei daartoe dat boere hoë regskoste moet aangaan om hul eiendomsreg te verdedig.
Die VF Plus het die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, versoek om dringend in te gryp en te verseker dat die wet toegepas word.
Vrae sal ook in die Vrystaatse wetgewer gestel word oor die status van Moloi en sy beweerde rol in herhaalde grondbesettings soos by Sterkfonteindam- en die Platbergnatuurreservaat. Indien nodig, sal die VF Plus strafregtelike klagte teen hom indien.
Die VF Plus doen ’n beroep op alle eiendomseienaars om waaksaam te wees, hul eiendom te monitor en onwettige betreding betyds aan te meld.
Die wet bepaal dat indien besetters langer as ’n bepaalde tydperk bly of strukture oprig, ’n formele uiteensettingsbevel nodig is – ’n proses wat duur en tydrowend kan wees.


