Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC kan nie namens Suid-Afrika praat oor Venezuela

Die ANC kan nie namens Suid-Afrika praat oor die gebeure in Venezuela of sy buitelandse beleid nie. Die VF Plus het al by herhaling daarop gewys dat die ANC se ideologies gedrewe anti-westerse beleid nie die sentimente van alle Suid-Afrikaners weerspieël nie.

Die VF Plus verwelkom die optrede van die VSA teen die onwettige regime van Nicolás Maduro in Venezuela. Die Vrye Wêreld staan onder ‘n morele verpligting om op te tree teen lande met outokratiese regerings waar menseregte vertrap word en misdadigheid nie van beleid geskei kan word nie.

Die Ierse filosoof en politikus Edmund Burke het met reg gesê kwaad oorwin wanneer goeie mense niks doen om dit te keer nie.

Terwyl die VSA se optrede nou uit verskeie oorde veroordeel word – veral uit Suid-Afrika – kan met reg gevra word waarom hierdie kritici al die jare geswyg het terwyl die mense van Venezuela gely het onder ‘n onwettige staatshoof en ‘n regime sonder erkenning.

Maduro se regering was fundamenteel onwettig en korrup. Nadat hy die 2024-verkiesing verloor het, het hy aan die mag vasgeklou met die hulp van sy gewapende magte, die Kubaanse intelligensie en bondgenote soos Rusland, Iran, China en selfs Noord-Korea.

Hierdie bande het Venezuela omskep in ‘n spilpunt vir internasionale misdaad: Maduro en sy vrou, Cilia Flores, is internasionaal aangekla van grootskaalse dwelmhandel deur kokaïen-netwerke, wapenhandel met terreurgroepe soos die revolusionêre FARC in Venezuela en selfs bande met Hezbollah en Iranse milisies.

Sy regering het miljoene Venezolane in armoede gedryf met hiperinflasie, voedseltekorte en ‘n vlugtelingkrisis wat meer as 7 miljoen mense ontwortel het. Menseregte-organisasies soos Human Rights Watch noem marteling, onwettige teregstellings en die onderdrukking van die opposisie as vergrype onder Maduro.

Maduro was nie ‘n wettige president nie, maar ‘n diktator wie se bewind deur meer as 60 lande ontken is. Hy het Venezuela se olie-rykdom geplunder ten gunste van buitelandse skuldeisers soos China, terwyl die mense van Venezuela in armoede gedompel is.

Die VSA se optrede was nie ‘n inval of regimeverandering nie, maar ‘n gerigte ingryping op grond van internasionale aanklagte teen Maduro.

Dit was nodig om ‘n regime te ontmantel wat nie net sy eie volk geterroriseer het nie, maar ook ‘n bedreiging vir die streek en die wêreld ingehou het. Nasionale soewereiniteit kan nie ‘n skild wees vir sulke gruwels nie – dit sou ‘n lisensie wees vir tirannie.

Die ANC gryp nou ook gerieflik na die internasionale reg om teen die VSA op te tree terwyl hy self in 2015 versuim het om aan dieselfde internasionale reg gehoor te gee deur ‘n hofbevel oor Omar Al Basjhir se inhegtenisneming uit te voer. Dit is oneerlik.

Die ANC was ook stil oor Oekraïne se soewereiniteit toe Rusland dié land in 2022 aangeval het en groot dele van Oekraïne se grond beset het.

Die versoek van Dirco om die aangeleentheid na die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) te neem, was nie ‘n gesamentlike besluit van die regering van nasionale eenheid (RNE) nie, maar eensydige ANC-optrede wat voorgehou word as “Suid-Afrika” se standpunt.

Die ANC se Nomvula Mokonyane het selfs die VF Plus as regeringsvennoot se siening oor die saak as “swak ingelig” en “minimalisties” afgemaak.

Dit is hierdie ideologiese blindheid van die ANC wat hom in die geselskap plaas van lande met bewese menseregtevergrype soos Iran, China, Noord-Korea en terreurgroepe soos Hamas, waarmee die VF Plus hom nie kan vereenselwig nie.

Niemand behoort veilig te wees wanneer hulle die burgerlike vryheid of eiendomsreg van hul eie mense skend as deel van ‘n geïnstitusionaliseerde regeerstelsel nie.

Indien niemand opstaan teen lande waar duidelike menseregtevergrype plaasvind nie, kan niemand verwag om later gehelp te word wanneer hy self die slagoffer daarvan word nie. Kwaad oorwin inderdaad wanneer goeie mense niks doen om dit te keer nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.