Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

‘n Maak-of-breekjaar wag in 2026 met die plaaslike regeringsverkiesing waar die ANC-juk afgewerp kan word

‘n Maak-of-breekjaar wag op Suid-Afrikaners in 2026 met die plaaslike regeringsverkiesing wat ‘n gulde geleentheid bied om van die ANC-juk ontslae te raak en die land op die herstelpad te plaas.

Die VF Plus glo dat die land se kiesers met die algemene verkiesing in 2024 aangedui het hulle smag na vernuwing en verbetering en dat die ANC se agteruitgang verdere momentum sal kry.

Daarom is daar is realistiese hoop op verandering en die stembus bied daardie geleentheid. Dit móét aangegryp word.

Koalisieregerings sal ná die verkiesing die sleutel wees om sover moontlik van die ANC ontslae te raak. Op munisipale vlak – en veral waar die VF Plus betrokke is – is reeds gesien dat koalisies groot veranderings en beter dienslewering gebring het.

Die VF Plus se standpunt is nog altyd dat regering deur koalisies die enigste oplossing is vir ‘n land met uiteenlopende gemeenskappe. Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrikaners dié konsep omarm om seker te maak elke gemeenskap word verteenwoordig deur ‘n party wat die beste na sy waardes en belange omsien.

Die VF Plus het oor langer as dertig jaar gewys hy is ‘n standvastige party, gewortel in Christelike, medemenslike waardes en dat ware vrede en voorspoed begin by die fondamente van ons samelewing: Sterk gesinne en ‘n onwrikbare verbintenis tot morele integriteit.

Die komende verkiesings bied ‘n unieke geleentheid om hierdie waardes in plaaslike regerings in te dra en leef dit reeds uit waar hy met groot sukses in koalisieregerings betrokke is.

Hierdie waardes kan Suid-Afrika weer suksesvol maak deur beter bestuur en dienslewering te verseker. Suid-Afrikaners is moeg vir ‘n onbevoegde regering en swak dienslewering wat hul lewe daagliks beïnvloed.

Die ineenstorting van die land se munisipaliteite is duidelik sigbaar in hul oudituitkomste. Die ouditeur-generaal (OG) het in 2023-24 uitgewys dat slegs 8% van die 257 munisipaliteite landwyd skoon oudits ontvang het – ‘n daling van 14% op die vorige jaar.

Munisipale skuld aan Eskom het in September vanjaar R105 miljard oorskry teenoor 94,6 miljard in Maart en R74,4 miljard in Maart 2024.

Regeringsingryping misluk grootliks, agteruitgang neem in felheid toe en talle provinsies worstel met swak finansiële bestuur, onvolhoubare skuld en mislukte projekte. Daar is ‘n landwye, sistemiese versaking om basiese dienste te lewer, waterstelsels stort in duie en ‘n onvermydelike, rampspoedige waterskaarste staar die land in die gesig.

Dit kan nie so voortduur nie. Die situasie het breekpunt bereik. Dit is waarom die 2026-verkiesing so belangrik is. Daar móét verandering kom.

Deur saam te werk, kan ons munisipaliteite herstel en ‘n toekoms bou waar almal floreer. Die VF Plus verbind hom daartoe om hierdie verandering te help lei. Mag 2026 ‘n jaar van hoop en hernuwing wees.

Geseënde Nuwejaar!

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.