Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lesufi-regering faal Gauteng-leerders met plasings

Die versuim van die Gautengse regering onder leiding van premier Panyaza Lesufi om alle leerders betyds in skole te plaas voor die aanvang van die 2026-skooljaar, is onaanvaarbaar.

Slegs 606 uit meer as 5 000 graad 1- en graad 8-leerders is die afgelope twee weke in skole geplaas. Dit laat 4 858 leerders sonder bevestigde skole met net ’n week oor voor die akademiese jaar begin.

Hierdie minimale vordering beklemtoon swak beplanning, gebrekkige administrasie en ’n duidelike gebrek aan dringendheid.

Ten spyte van die versekerings van die LUR vir onderwys, Matome Chiloane, dat die proses “doeltreffend en regverdig” is, ontvang die VF Plus talle verslae van leerders wat by skole geplaas is wat tot 95 km van hul huise geleë is.

Sulke plasings ondermyn gesinsstabiliteit, leerderveiligheid en gemeenskapsgegronde onderwys, terwyl die koste van regeringsmislukking op ouers afgewentel word.

Ouers het ook ernstige kommer oor graad R-leerders wat gedwing word om weer aansoek te doen om by hul huidige skole te bly, net om elders geplaas te word nadat uniforms en reëlings reeds getref is.

Hierdie praktyk skep onsekerheid en minag ouerlike keuse.

In Tshwane-metro wys petisies op herhalende probleme: Graad 8-bottelnekke, onverklaarde appèlverwerpings, die skeiding van broers en susters, veiligheidskwessies en die ignorering van spesiale omstandighede.

’n Plasing op papier beteken nie werklike toegang tot onderwys wanneer kinders ver van hul gemeenskappe af gestuur word of tot die laaste oomblik in onsekerheid verkeer nie.

Dit spruit uit toelatingsprosesse wat te laat begin, onvoldoende kapasiteitsbeplanning in hoë-groeigebiede en ’n gebrek aan deursigtigheid.

Die VF Plus glo in gedesentraliseerde, gemeenskapsgerigte onderwys waar ouers ’n werklike sê het en kinders naby die huis opgevoed word.

’n Bekwame provinsiale regering sou toelatings vroeër oopmaak, plaaslike en gesinsplasings respekteer, kapasiteit uitbrei waar bevolkingsgroei dit vereis en verseker dat geen leerder gedwing word om ver te reis nie.

Die Lesufi-regering se voortdurende mislukking bevestig dat Gauteng se onderwysstelsel swak bestuur word en leerders, gesinne en gemeenskappe dra die prys.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.