Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis noodingryping by Boksburgmeer-rioolramp

Die VF Plus eis dat die Ekurhuleni-metro dringend ingryp by die ernstige rioolbesoedelingskrisis by die Boksburgmeer – reg langs die Boksburg-biblioteek.

Wat eens ’n rustige, groen openbare ruimte was, het nou in ’n giftige rioolpoel verander waar rou rioolwater vrylik vloei en ’n ondraaglike stank versprei wat die werksomstandighede binne die biblioteek onleefbaar maak.

Personeel beskryf die situasie as onhoubaar, met die stank wat die hele gebou binnedring en asemhaling bemoeilik.

Ten spyte van talle verslae aan die biblioteek se bestuur, vakbonde en die bedryfsgesondheidsafdeling, het die metro geen stappe gedoen of ondersoek ingestel nie.

Ekurhuleni se nalatigheid stel die lewe en gesondheid van munisipale personeel én inwoners in gevaar.

Foto’s wat hierdie week geneem is, wys duidelik hoe rioolafsettings en vuil water in die stroom langs die biblioteek vloei – ’n teken van langdurige infrastruktuurverval en ‘n gebrek aan instandhouding.

Die party het die saak aangemeld by die waarnemende stadsbestuurder, Kagiso Lerutla , hoof van water en sanitasie, Thokozani Maseko en die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling.

Die VF Plus dring daarop aan dat ingenieurs en omgewingsgesondheidsbeamptes onmiddellik optree om die probleem reg te stel.

Dit gaan hier nie net oor ’n gebarste rioolpyp nie, maar oor ‘n stelsel wat besig is om in duie te stort. Openbare instellings soos biblioteke behoort veilige ruimtes te wees, nie gesondheidsgevare nie.

Die VF Plus sal aanhou om druk op die metro uit te oefen en sal nie huiwer om die saak ook na die nasionale departement van water en sanitasie en die provinsiale departement van omgewingsake te verwys nie.

Wanneer ’n metro nie eens die waardigheid van sy eie werkers of die veiligheid van openbare ruimtes kan beskerm nie, is dit nie net bloot ’n verleentheid nie, dit is ’n absolute skande.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.