Die VF Plus verwerp die Gautengse onderwysdepartement se besluit om subsidies aan kwintiel 5-skole in dié provinsie te verlaag vanaf R900 na slegs R315 per leerling vanaf 2026.
Hierdie verlaging tref veral Afrikaanse skole en die VF Plus beskou die skielike verlaging in subsidies aan kwintiel 5-skole as ’n indirekte, maar duidelike aanslag op Afrikaanse skole in Gauteng wat hulle nie net onder finansiële druk plaas nie, maar ook die voortbestaan van gehalte onderwys in Afrikaans ondermyn.
In ’n provinsie waar onderwys reeds onder druk verkeer, is dit onaanvaarbaar dat ’n spesifieke taalgemeenskap die grootste las moet dra en dit sonder vooraf konsultasie of duidelike motivering.
Benewens die subsidie-verlaging, staar die verlies van departementele onderwysposte skole ook in die gesig, terwyl hulle steeds vir noodsaaklike uitgawes en personeel moet begroot.
Die VF Plus beskou hierdie besluit as onregverdig en onaanvaarbaar, veral aangesien die meeste skole reeds hul begrotings vir 2026 afgehandel het en ouers ingelig is oor skoolfondsvereistes.
Die party sal onmiddellik hieroor praat met die LUR vir onderwys, Matome Chioane, om duidelikheid te kry oor die motivering vir die besluit.
Die VF Plus wil weet waarom slegs kwintiel 5-skole geraak word en hoe ’n reeds goedgekeurde begroting skielik gewysig kan word.
Daar moet ook duidelikheid wees oor waarheen die fondse verskuif word en of dit inderdaad aan ander skole toegeken word en indien wel, waarom dit op ʼn wyse geskied wat bestaande beplanning ontwrig.
Hulpbrontoewysing kan nie lukraak twee maande voor die einde van ’n skooljaar verander word nie. Dit is ’n resep vir chaos en ’n klap in die gesig van verantwoordelike finansiële bestuur.


