Akademia se bekendstelling Woensdag van sy Paarl-kampus lewer op ‘n konkrete manier kommentaar op die afbrand van akademiese geriewe by twee gevestigde Suid-Afrikaanse universiteite.
Aan die Universiteit van die Vrystaat se Qwa-Qwa-kampus en Fort Hare se Dikeni- (Alice) kampus het studente se ontevredenheid tot die vernietiging van infrastruktuur gelei. Een van die aanhoudende bronne van onrus is studieskuld en die gebrekkige prestasie van NSFAS, die staat se finansieringskema vir studente.
In die Paarl daarenteen, kon Akademia op sy sukses in Pretoria voortbou, om ‘n kampus vir Wes-Kaapse studente – en ander wat verkies om daar te studeer – te vestig. Dit is sonder direkte staatsbefondsing of NSFAS-gefinansierde studente.
Die punt wat hierdeur beklemtoon word, is dat hoër onderwys ‘n voorreg is, wat liefdesdiens van studente, hul ouers, beursvoorsieners en personeel verg om tot sy reg te kom. Dit is tegelyk ‘n kultuurtaak, as toerusting vir studente se toekomstige rol in die ekonomie.
In Suid-Afrikaanse hoër onderwyskringe word dikwels na histories bevoorregte en histories benadeelde instellings verwys. Akademia se sukses lê daarin dat dit nie na sy eie gebrek aan staatsbefondsing as benadeling kyk nie, maar die voorsiening van klassieke universiteitswese in Afrikaans finansieel lewensvatbaar aanbied, as deel van ‘n blye roeping.
Die VF Plus wens Akademia alle sterkte toe met hierdie belangrike uitbreiding. Die huidige bedeling skep ‘n omgewing waarin herlewing van Westerse waardes en die Afrikaanse taal en -kultuur op elke lewensterrein noodsaaklik is – van die politiek tot die akademie en alles tussenin.


