Die VF Plus-jeug veroordeel die onrus en vandalisme wat tans op die kampusse van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind nadat studente, ondanks duidelike kommunikasie van die universiteit, beweer dat die nuwe finansiële beleid rassediskriminerend is.
Die universiteit het duidelik gekommunikeer dat die nuwe reëlings oor uitstaande skuld nie NSFAS-studente raak nie en dat registrasie van hierdie groep nie in gedrang is nie.
Ten spyte hiervan blaas sekere groepe nou die situasie aan as ’n sogenaamde “rassekwessie” met die argument dat daar teen studente uit arm, swart huishoudings gediskrimineer word omdat daar nog uitstaande bedrae van tot R30 000 bestaan.
Die VF Plus-jeug se standpunt is steeds dat ‘n finansieringskema vir hoër onderwys, wat geen terugbetaling vereis nie, onvolhoubaar is. Dit plaas ‘n ondraaglike las op die staatskas.
Die werklikheid is dat die UV een van die min tersiêre instellings in die land is wat steeds registrasie moontlik maak vir studente met agterstallige skuld, ’n daad van inklusiwiteit, nie uitsluiting nie.
Hierdie besluit om ’n meer volhoubare stelsel in te stel, is verantwoordelik en regverdig.
Die feit dat sommige studente, ten spyte hiervan, eerder tot geweld en vandalisme oorgaan as om voldoende met die universiteit te konsulteer, wys dat die ANC en EFF se rasgegronde retoriek en slagoffermentaliteit steeds kampusse vergiftig.
Die VF Plus doen ’n beroep op studenteleiers om verantwoordelikheid te neem, gesprek te voer en oplossings te soek en om nie die universiteit se infrastruktuur of veiligheid van ander studente in gevaar te stel nie.
Hoër onderwys is ’n voorreg en ’n geleentheid – nie ’n slagveld vir politieke agendas nie.
Ware leierskap beteken om oplossings te soek, nie om te vernietig nie.


